Die Cilliers-Familieblad

Die Tuiste vir die Cilliers-/Celliers- en Cillie-Families

Stamvader Josué Cellier se Verhaal

Josué Cellier was een van die latere Hugenote-vlugtelinge wat na Suid-Afrika gekom het. Hy het oorspronklik uit Orlèans, Frankryk, gekom voordat hy Na die Nederlande as Hugenoot gevlug het

As na beskikbare bronne gekyk word, kon hy in die jaar 1667 gebore gewees het. Hy was die seun van Josué Sellier en Judicq¹ Rouillion wat hul seun Nicolaas, in die naburige dorpie Bazoches-en-Dunois laat doop het. Elisabeth Couvret is op 9 September 1675 ook in Orlèans gebore en op 6 Oktober 1675 in die dieselfde dorpie se Protestanse gemeente gedoop. Josué en Judicq het ook nog ʼn dogter Marie, gehad wat in ca 1670 gebore is.

Die bronne wat geraadpleeg is, verskil oor presies wanneer Josué en Elisabeth Frankryk verlaat het. Een bron beweer dit was in 1685, ná die herroeping van die Edik van Nantes, toe Josué 18 en Elisabeth 9 jaar oud was. Hierdie edik het vir bykans `n honderd jaar godsdiensvryheid aan Protestantse Christine in Frankryk verleen en die herroeping daarvan het wrede vervolging van die Protestante tot gevolg gehad.

Nog ‘n bron beweer hulle het Frankryk in 1697 verlaat na die beëindiging van die negejarige oorlog tussen Nederland en Frankryk toe hulle onderskeidelik 30 en 21 jaar oud was. Volgens ʼn derde bron is hulle waarskynlik eers in 1699 uit Frankryk uit.

Hulle is op 31 Maart 1700 in Delft, Holland, getroud, net voordat hulle in Mei van dieselfde jaar na Kaapstad vertrek het. Hul gebooie is op 13 Maart 1700 in daardie gemeente afgekondig. 


Hieronder is 'n skildery van die Kerkgebou in Delft soos dit in daardie tyd gelyk het.

Hier is hul huweliksinskrywing (digitaal) soos dit in die kerkregister van van Delft in daardie tyd verskyn het.

Soos gesien kan word, het Josué ten tyde van sy troue in Den Haag gewoon en sy bruid in Choorstraat in die stad.

Met die opgee van hul gebooie het Josue in Gravenhage gewoon.                               


Simon van der Stel het in 1679, pas na sy aanstelling as goewerneur aan die Kaap, die Here XVII, direkteure van die Verenigde Hollandse Oos-Indiese Kompanjie (H.O.I.K ), versoek om boere na die Kaap te stuur. Aangesien die Kaap net as ʼn verversingspos beskou is, is sy versoek geweier.

Namate al meer Franse vlugtelinge ná die herroeping van die Edik van Nantes na Holland gestroom het, was die Here XVII uiteindelik veplig om tog van die Franse vlugtelinge wat boere en ambagsmanne was, na die Kaap te stuur. Dit het dit vir Josué en Elisabeth dus moontlik gemaak om ook na die Kaap te emigreer.

Die Here XVII het bepaal dat die Franse Hugenoot-vlugtelinge wat oorweeg sou word om na die Kaap gestuur te word, selfonderhoudend moes wees. Josué, met sy kennis van landbou, wynbou en sy vaardigheid as timmerman, het hom dus laat kwalifiseer.

Verskeie ander voorwaardes is ook aan voornemende emmigrante na die Kaap gestel. Hulle kon onder meer:

  • gratis op die skepe van die H.O.I.K. vervoer word, mits hulle 'n eed van getrouheid aan die Kompanjie afgelê het.
  • geen bagasie, behalwe dit wat vir eie gebruik nodig was, met hulle saambring nie. Hulle kon egter soveel kontantgeld met hulle saambring as wat hulle wou.
  • as boere soveel grond kry as wat hulle kon bewerk, terwyl landbougereedskap, koringsaad en vee aan hulle verkoohulp sou word.

Josué en Elisabeth het waarskynlik onder dieselfde voorwaardes gratis na die Kaap gereis, soos die volgende brief van die Here XVII aan die goewerneur van die Kaap aandui:

Precis of the archives of the Cape of Good Hope, Letters received, 1695-1708. H.C.V. Liebbrandt.

Die skepe waarmee die vlugtelinge oorgekom het, was oor die algemeen maar klein en passasiers het gewoonlik in kajuite (hutte genoem) onder die voorste dek gewoon sonder enige wasgeriewe. Op die dek bokant die passasiers is die lewende hawe, soos hoenders en skape, as vars vleis vir die reis aangehou.


Voedsel wat aan boord geneem is, is noukeurig deur die H.O.I.K. voorgeskryf. Dit het bestaan uit brood, ingelegde vleis, stokvis en soutvis, ingelegde haring, bier, Franse en Spaanse wyn, brandewyn, botter, olie, asyn, lemmetjiesap, stroop vir ontbyt, pruimedante, rysgort, grou- en groenertjies, mosterdsaad, mierikwortel en sout. Kos, water en bier het betreklik gou bederf terwyl wyn langer goed gebly het.


Volgens Wikipedia bevat Mierikwortel (Amoracia rusticana) baie vit.C, asook ander vitamines en minerale. Dit word gekneus en as smaakmiddel by bv. vis, bygevoeg. Dit was al 3 000 jaar gelede by die Grieke bekend en word steeds in baie Europese lande gebruik Hieronder is 'n foto van Meriekwortel:

Skeurbuik, wat hoofsaaklik weens 'n gebrek aan vars voedsel, veral vars groente en vrugte, veroorsaak is, het algemeen voorgekom en het bygedra tot `n hoë persentasie sterfgevalle tydens `n seereis. Voorts was daar nog gevare soos storms, brand en aanvalle deur seerowers.

Die eerste Franse vlugtelinge het aan die einde van 1687 uit Nederland vertrek en in 1699 is die H.O.I.K. versoek om nie meer Franse Kaap toe te stuur nie.

Josué en Elisabeth het op 2 Mei 1700 aan boord van die Reygersdaal vanaf Goeree, 'n Suid-Hollandse eiland, vertrek. Saam met hulle aan boord was Elisabeth se neef, Paul Couvret, sy vrou, Anne Valleté, en hul dogtertjie, Anne Elizabeth.

Vir beter beskerming het 'n klompie skepe gewoonlik saam uitgevaar, maar daar kon nie vasgestel word of nog skepe saam met die Reygersdaal gevaar het nie. `n Reis na die Kaap het in daardie jare enigiets van drie tot ses maande geduur en die Reygersdaal het op Saterdag 21 Augustus 1700 - 3 maande en 19 dae later - in die Kaap aangekom, maar moes tot die volgende middag buite die hawe voor anker lê voordat dit die hawegebied kon binnevaar. 'Op de naarmiddag' van Sondag 22 Augustus anker hulle in die hawe onder een slap zuyd west luchtj', lui 'n inskrywing in die H.O.I.K.-dagboek wat aan die Kaap gehou is.

Die skipper van die Reygersdaal, Martin de Jeught, het met hul aankoms aan die Kaap gerapporteer dat net een sterfgeval tydens die seereis van meer as 3½ maand aan boord voorgekom het. Daar was ook agt siekes aan boord sodat dit voorkom asof Josué en Elisabeth se vaart sonder enige buitengewone voorvalle afgelê is.

Twee weke ná hul aankoms aan die Kaap het die Reygersdaal sy vaart na Batavia (Djakarta op die Indonisiese eiland Java) voortgesit. Die Reygersdaal was nie ʼn baie groot skip nie. Dit was 'n Pinas wat somtyds ook 'n Jacht genoem is.

Hier is ʼn skets van ʼn Pinas soos hierdie bote gelyk het. Die Reygersdaal was net ʼn raps langer as 44m en net 11m breed.

Josué en Elisabeth het elf kinders gehad, vyf seuns en ses dogters. Net Pierre (b3) het as kind gesterf, terwyl Susanna (b9) en Judith (b10) as jongmeisies binne tien dae na mekaar gesterf het; Susanna op 20-jarige ouderdom op 14 Julie 1733 en Judith op 19-jarige ouderdom op 24 Julie 1733.

Die oudste en jongste seuns Josué (b1) en Pieter (b8) is nooit getroud nie en het respektiewelik op 69-jarige en 81-jarige ouderdom gesterf. Die twee seuns deur wie die vanne Cilliers, Celliers, Cillié voortgedra sou word, is Jan (b2), wat in 1728 met die weduwee, Anna Marais, getroud is, en Abraham (b7), wat in 1744 met sy broer Jan se stiefdogter, Anna Rossouw, getroud is.

Elisabeth (b4) het waarskynlik in 1724 met Pierre Malherbe getrou, die enigste oorlewende seun van die Malherbe-stamvader. Sodoende is sy die stammoeder van alle Malherbes in die land. Francina (b5) is in 1727 met Pierre le Roux getroud en Magdalena (b11) in 1736 ook met ʼn Pierre le Roux, ʼn neef van haar suster Francina se man. Maria (b6) is in 1732 met Johannes Hubertus, `n Hollander, en na sy dood in 1735 met Urbanus Sauermann, `n Duitser, getroud en is die enigste kind wat nie met `n Hugenote-afstammeling getroud is nie.

Die Paarl (toe bekend as Drakenstein) se kerk waarin Josué en Elisabeth se oudste kinders gedoop is, was weinig meer as `n saaltjie wat deur die Franse aanmekaar getimmer was en is na ʼn groot wind- en reӫnstorm in Oktober 1716 so erg verniel dat dit ne langer gebruik kon word nie.

Tot en met die ingebruikneming van die nuwe kerk in 1720, is dienste aan huis van die predikant, ds Van Aken, gehou. Hul jongste kind, Magdalena (b11), is moontlik hier gedoop. Maria (b6) is in Kaapstad gedoop en Pieter (b8) is moontlik in Kaapstad en Stellenbosch gedoop omdat daar vanaf 1707 tot 1714 geen predikant in die Paarl was nie. Die twee kinders wat wel gedurende hierdie tyd in die Paarl gedoop is, is waarskynlik deur `n besoekende predikant gedoop.

Josué, sowel as Elisabeth, was, soos talle ander Hugenote, ongeletterd. Hoewel sommige van die Hugenote geleer het om hul naam te teken en ook om te skryf, was Josué en Elisabeth skynbaar nie onder sodaniges nie. In 1720 het Josué sy merk gmaak toe hy hul gesamentlike testament onderteken het en toe Elisabeth in 1724 'n nuwe testament opgestel en onderteken het, het sy dit ook gedoen deur haar merk te maak.

Die gehalte van onderwys aan die Kaap was toentertyd maar power. Paul Roux, met wie Elisabeth na Josué se dood getrou het, is as onderwyser van die Franse gemeenskap in die Paarl aangestel. Huismeesters is ook deur sommige gesinne op ʼn kontrakgrondslag in diens geneem. Hul vergoeding het meestal bestaan uit 8 tot 14 gulden per maand, 1 tot 2 pond tabak, voedsel, drank, goeie huisvesting en soms klere aan die einde van die jaar.

Jacob Naudé wat in 1718 as matroos in die Kaap aangekom het, was eers ʼn jaar lank huismeester by Pierre Joubert teen ʼn vergoeding van 10 gulden en `n half pond tabak per maand, asook die gebruiklike voorsiening van kos, drank en goeie huisvesting. Op dieselfde dag wat sy kontrak ten einde geloop het, naamlik op 30 Mei 1719, het Josué Cellier ʼn kontrak met Jacob Naudé gesluit, onder dieselfde voorwaardes behalwe dat hy nou ʼn half pond tabak per maand meer gekry het. Hierdie kontrak het op 2 Mei 1720 verstryk.

In haar testament van 1724 stel Elisabeth vir Jan (b2) as voog oor sy minderjarige broers en susters aan en bepaal dat hy 'verpligt zijn' om hulle eerlik op te voed en ook om hulle te laat leer, lees, skryf of ʼn handvaardigheid te laat aanleer.

Dokumente wat deur vyf van haar kinders onderteken is, is teëgekom; Elisabeth (b4) het as Ei Cilje geteken, Francina (b5) as Fransina Cellie sowel as Fransina Celie by ʼn ander geleentheid, Maria (b6) as Mariecellier; Pieter (b8) as Piter Seliee en Magdalena (b11) as Madalena Cellie.

Ons kon nie vasstel of Josué en Elisabeth Hollands magtig was nie. Hul kinders sou weens regeringsbeleid Hollands moes aanleer. Hierdie beleid het veroorsaak dat die Franse taal aan die Kaap in onbruik geraak en uitgesterf het.

Nadat die eerste predikant van die Paarl, Pierre Simond, die Kaap in 1702 verlaat het, het goewerneur Willem Adriaan van der Stel die gebruik van Frans in die kerk en skool verbied en verklaar dat net Hollands voortaan op skool en in die kerk gebruik mag word. Sodoende wou hy die Franse taal laat uitsterf en die Franse nedersertters aan die Kaap verhollands. Vertoë is tot hom gerig om preke in Frans steeds in die kerk toe te laat, omdat min van die Franse in die Kaap ʼn preek in Hollands kon volg. Die vesoek is toegestaan waarna 2 dienste op ʼn Sondag toegelaat is, een in Hollands en een in Frans, maar na 1726 word nie weer melding gemaak van Franse dienste nie.

Josué en Elisabeth het hulle op die plaas Het Kruijs Pad (Kruispad) gevestig waarop die Kaapse voorstede Brackenfell,Kraaifontein en Protea Hoogte aangelê is. Hulle waarskynlik tot in 1709 hier gewoon.

Hieronder is n kaart waarop die destydse ligging van die plaas gesien kan word:

Volgens ʼn berig van toentertyd was daar in Januarie 1708 'ten huijse van Josua Sellier geleegen aant kruispad tusschen de bottelerije en tijgerbergen het daar twaalf mense zaaten en dronken', toe daar ʼn onderonsie tussen hulle en ʼn vryswarte plaasgevind het. Daarvolgens het die vryswarte, Pieter Harmensz, wat op sy eie grond geboer het en as Brasman bekend was, daar aangekom en vir Jacob Bourbonnais, een van Josué se gaste, daarvan beskuldig dat hy sy sweep gesteel het. ʼn Geveg het uitgebreek en Brasman het vir Bourbonnaise met `n mes gesteek en hom toegesnou: 'Jou donders kind, daar heb je genoeg daar is bloed',

ʼn Eis vir skadevergoeding is ingestel. Bourbonnaise het vir ongemak en pyn, asook vir verlore tyd geëis en Jacob Bisseux, in wie se huis Bourbonnais verpleeg is, het ook vir sy verpleging en gepaardgaande uitgawes ʼn eis ingestel.

Brasman se vonnis was om gegesel te word, skadevergoeding en kostes te betaal en hy is ook lewenslank uit die Kaap verban.

Nog `n voorval waarby Josué betrokke was, was die ontevredenheid oor Goewerneur Willem Adriaan van der Stel se wanadministrasie. Aanvanklik is die amptenare in diens van die H.O.I.K. aan die Kaap nie toegelaat om te boer nie omdat hul mededinging die boere finansieel kon knak, maar teen die tyd dat Josué en Elisabeth in die Kaap aangekom het, het Van der Stel en bykans talle van die hooggeplaaste amptenare reeds op hul eie plase geboer. Mettertyd het hulle ook tot die mark toegetree, wat alreeds swak was. Hulle het hul produkte eers aan die kompanjie en verbygaande skepe verkoop voordat die boere toegelaat is om hul produkte te verkoop. Die gevolg was dat die gewone boere met hul produkte bly sit het.

In 1706 is ʼn klagskrif teen W A Van der Stel en verskeie amptenare opgestel warin hulle ondermeer van omkopery en afpersing beskuldig word. Josué, asook Elisabeth se neef, Paul Couvret, is van verskeie Hugenote wat dit onderteken het.

Toe Van der Stel hiervan hoor, het hy op sy beurt ʼndokument oor homself opgestel wat tevredenheid met sy administrasie getuig het en ook van sy goeie karakter en eerlikheid. Hy het ʼn afdeling van sy dragonders (soldate) daarmee uitgestuur en al die boere moes dit onderteken. Diegene wat geweier het om te teken, is gedreig dat hulle van hul grond afgesit sou word.

Josué het die getuigskrif onderteken uit vrees dat hy sy plaas sou verloor.

Die meeste van die Hugenote wat geteken het, het later verklaar dat, hoewel hulle ontevrede met Van der Stel se wanbestuur was, hulle gevrees het dat hulle hul plase sou verloor. Waarskynlik was dit ook by Josué `n oorweging, aangesien hy in hierdie stadium nog nie sy eie plaas besit het nie.

Die uiteinde van die klagskrif was dat Willem Adriaan van der Stel en van sy volgelinge van hul poste onthef en na Holland teruggeroep is.

In 1709 is Josué nog in die opgaafrolle van die eertydse Distrik Stellenbosch opgeneem waaronder Kruispad geval het. Geen opgaafrolle het vir die jare 1710-1711 behoue gebly nie en dit is dus onseker waar hy en sy gesin gedurende hierdie tydperk gewoon het. Het Kruys Pad is op 15 Maart 1712 amptelik aan Josué toegeken, maar daar kan nie veel van hierdie datum afgelei word nie, aangesien plase wat aan boere toegesê is, d.w.s toestemming verleen is om die grond te bewoon en te benut, dikwels eers etlike jare later aan hulle toegeken is, en dus hul eiendom geword het.

In 1712, toe Josué in die opgaafrolle van die eertydse distrik Drakenstein opgeneem is, het hy en sy gesin waarskynlik reeds op Orlèans gewoon. (Orlèans was geleë in Dal Josafat net buite die Paarl. Dit is tans bekend as New Orleans en is ʼn woongebied vir Bruin Mense. Orlèans het aan die bekende Nederburg-wynlandgoed gegrens. Die Palmietrivier wat deur die plaas gevloei het, is tans bekend as die Hugosrivier.

Die kaart hieronder toon aan waar die plaas gelëe was (Orlèans kan heel bo in die linkerkntse hoek van die kaart gesien word):

Goewerneur Simon van der Stel was aanvanklik nie ten gunste van die vestiging van boere aan die oostekant van die Bergrivier nie en die gebied bekend as Klein Drakenstein, waar Orlèans geleë was, is eers in 1692 amptelik vir bewoning oopgestel.

Kort na sy aanstelling as goewerneur het Willem Adriaan van der Stel plase oorkant ie Bergrivier laat opmeet, ondermeer Orlèans (57 morg 300 vk roede) en dit is op 28 Februarie 1699 aan Matthieu Frachas toegesê. Josué het Orlèans by Frachas se opvolger, Casper Jansz, gekoop en dit het op 11 Oktober 1713 amptelik sy eiendom geword. . Hier het hy en Elisabeth tot en met hulle dood geboer

Die akte van die plaas is op 17 Augustus 1964 deur die Landmeter-generaal gekanseleer. Daar is dus vir langer as 265 jaar op die plaas geboer.

‘n Dokter (chirurgyn), Gideon le Grande, het joernaal gehou van sy mediese dienste en ‘n gedeelte van sy joernaal vir 1710 het behoue gebly. Op 9 Februarie 1710 het hy medikasie van scafran vir Josué Cellier voorgeskryf, maar hierdie inskrywing is later weer doodgetrek. Wat scafran is, is onbekend en waarom die inskrywing later doodgetrek is, is eweneens onbekend.

Van die siektes wat aangeteken is, is bloedvloeiing, geswelde voete, keelseer, kopseer, kortasem, krampe in die ingewande, longsiekte, maagpyn, niere, sooibrand, snydings, sweer en verkoue. Bloedlating as behandeling kom die meeste voor, onder meer vir pyn aan die arm en skouer; daarna purgasies van sennablare en nieskruid.

Elisabeth se neef, Paul Couvret, en sy gesin het in 1712 na Holland teruggekeer ná `n verblyf van 12 jaar aan die Kaap. Hy het op die plaas Goede Hoop, van 60 morg, in die Paarl geboer.

Die Paarl se lidmaatregisters is waarskynlik sedert die stigting van die gemeente in 1691 bygehou, maar die eerste register wat behoue gebly het, is dié van 1715. Onder 'Der Ledematen die de Predikant Van Aken in die Kerke van Drakenstyn in den jare 1715 gevonden heeft', was 'Jossue Sellier en syne vrouw Elisabeth Couvret' en die totale aantal lidmate is as 104 aangeteken. Teen 1725 het die aantal lidmate tot 146 gegroei.

Daar is eintlik min oor Josué se boerderybedrywighede gedurende sy eerste paar jaar aan die Kaap bekend weens die onvolledigheid van die opgaafrolle. In 1704 het hy net 4 koeie, besit, maar teen 1709 het hy reeds 8 000 wingerdstokke, gehad, 5 perde en 18 beeste en het hy ook 60 mud koring geoes. In latere jare het hy tot 300 skape besit en jaarliks tot 3 lêers (1 731 liter) wyn geproduseer.

Josué is in Oktober 1721 op 54-jarige ouderdom oorlede en het die 45-jarige Elisabeth met tien kinders tussen die ouderdomme van 4 en 20 jaar agter gelaat.Volgens sommige bronne is hy op sy plaas Orlèans oorlede, maar dit word nie deur die lidmaatregister, waar sy sterfdatum aangeteken is, bevestig nie.

Volgens Josué en Elisabeth se gesamentlike testament sou die langslewende alles erf. Elisabeth is toe 'den Langstleevendegeinclineert tot een ander húwellijk'. In ongeveer 1722 is sy met die 57-jarige wewenaar, Paul Roux, getroud. Hul presiese huweliksdatum kon nog nie opgespoor word nie, aangesien die Paarl se huweliksregisters vir daardie tydperk verlore is. Paul en Elisabeth kon nie baie lank getroud gewees het nie want hy is op 7 Februarie 1723 oorlede, net 16 maande na haar eerste man se afsterwe. Elisabeth het na Paul se dood nie weer getrou nie.

Paul Roux was `n bekwame man wat kort na sy aankoms in die Kaap in 1688 as onderwyser, voorleser in die eredienste en sieketrooster vir die Franse gemeenskap in die Paarl aangestel is.Hy het hierdie poste tot sy dood toe beklee.

Roux is saam met die Franse predikant, Pierre Simond, gereken as een van die grootste stryders vir die gebruik en behoud van die Franse taal aan die Kaap. Teen die tyd dat hy en Elisabeth getroud is, was al die kinders uit sy eerste huwelik reeds mondig. Hy het ʼn kleinerige plasie, Oranje, van net 2 morg 250 vk roede, in die Paarl besit wat na sy dood na sy seun Jeremie gegaan het.

Ná haar tweede man se dood, het Elisabeth en haar vier seuns die boerdery op die plaas voortgesit. Bykomende hulp vir die boerdery is verkry met die aankoop van haar eerste slaaf in 1728 en teen 1743 het sy 4 slawe, een slavin en slawekinders besit.

Vanaf 1732 tot 1734 het haar skoonseun, Johannes Hubertus, as kneg op die plaas gewerk. Volgens die kontrak wat op 27 September 1732 tussen hulle gesluit is, onderneem hy om haar 'voor den tyd van een geheel Jaar trouw en naarstig as kneg te dien' teen `n maandelikse vergoeding van twaalf Caabse guldens asook huisvesting en voedsel. Hierdie kontrak is op 26 Oktober 1733 vir nog `n jaar verleng. Teen 1743, kort voor haar dood, is 10 lêers (5 773 liter) wyn op Orlèans geproduseer en met tye was daar tot 6 perde, 30 beeste en 200 skape op die plaas. Benewens koring, is rog ook gesaai.

In 1738 het die 62-jarige Elisabeth en drie van haar seuns, Josué (b1), Abraham (b7) en Pieter (b8), nog op die plaas gewoon en het hulle vir nagenoeg `n jaar skuiling aan die 39-jarige voortvlugtende Estienne Barbier, `n sersant in diens van die H.O.I.K, gebied.

Elisabeth is in ongeveer 1743 op 67-jarige ouderdom oorlede. In haar testament van 1724 het sy bepaal dat haar kinders gelykop moet erf en alhoewel dit ‘n algemene bepaling in daardie tyd was dat ‘n plaas aan ‘n spesifieke persoon bemaak word teen ‘n vasgestelde bedrag, doen sy dit nie. Sy spreek net haar begeerte uit dat Orlèans na haar afsterwe ‘soude in volle bezit gegeeven werden aan haar oudste zoon Josua Cellier’.

Daar kon nie vasgestel word waarom Josué (b1) na sy ma se afsterwe by sy suster Elisabeth (b4) in die Wellington-omgewing op die plaas Hexberg gaan woon het nie en hy nie die plaas in besit geneem het nie.

Jan (b2) het in 1743 reeds op sy eie plaas, De Druiwevallei, geboer. Abraham (b7) het van die vee op Orlèans oorgeneem, en was die eerste Cellier wat oor die berg getrek het en hom in die huidige Rawsonville-omgewing gevestig het waar hy hoofsaaklik met vee geboer het. Pieter (b8) het die oorblywende vee, slawe en die plaas oorgeneem en was, sover vasgestel kon word, die laaste Cellier-eienaar van Orlèans.

(Met groot dank aan Mariane Olivier)